Godsdiens
Hoërskool Fichardtpark wil al sy doen en late op Christelike beginsels skoei. Jesus Christus is Koning van ons skool. Dit is dus baie belangrik dat daar geleenthede binne die skool is waar die leerder sy godsdiens kan beleef en beoefen. Dit is egter ook so dat geen leerder gedwing word om hieraan deel te neem nie.
DIe skool wil nie los staan van hierdie deel van die ervaringswêreld van die leerders nie. Om hierdie rede word die volgende geleenthede vir die leerders gebied:
Elke dag word met 'n gesamentlike byeenkoms begin waar daar 'n boodskap uit die Bybel gebring word en 'n gebed gedoen word.
Tydens Vrydae se saalbyeenkomste is daar 'n geleentheid vir leerders om vir 'n halfuur lank geestelike liedere te sing wat aanpas en voortbou op dit wat hulle in hulle gemeentes se jeugbyeenkomste en ander kampe en saamtrekke sing. Daar sal van tyd tot tyd gebruik gemaak word van sangleiers van jeuggroepe ens. Die saalbyeenkoms (afkondigings, gelukwensings, ens.) volg dan na afloop van hierdie lofsang en aanbiddingsgeleentheid. Die projek staan onder leiding van Mnr. Prinsloo.
Die VCSV speel ook 'n belangrike rol in die geestelike verryking van die leerders. Verskeie kampe word deur die VCSV aangebied op Maselspoort, sowel as 'n April seekamp. Hierdie geleenthede is van ontskatbare waarde vir die wat dit bywoon.
Dit is vir Hoërskool Fichardtpark baie belangrik dat die leerders die godsdiensgeleenthede wat in die skool aangebied word as eg sal beleef en dat daar 'n gesindheid van omgee in die skool sal bestaan wat die Christelike boodskap wat uitgedra word sal bevestig.
Skooltrots
Die belangrikheid van skooltrots:
Skooltrots is die begin en einde van 'n skool. Skooltrots is die ontwrikbare geloof by elke ouer, leerder en onderwyser dat ons skool die beste skool is. Skooltrots skep samehorigheid en dissipline onder die leerders. Dit lei tot hoër prestasie en meer trots. Definitief het skooltrots 'n sneeubaleffek. Hoe meer trots daar is, hoe hoër die prestasies, en hoe meer prestasies daar is, hoe meer trots is daar. Die sterkste toets vir skooltrots is die positiewe manier waarop ouers, leerders en personeel oor die skool praat.
Vereistes vir skooltrots:
Skooltrots is alleenlik moontlik as die volgende teenwoordig is:
'n Dinamiese personeel
Gemotiveerde en gedissiplineerde leerders
'n Betrokke ouergemeenskap
Waarop is ons trots?
Ons is trots op die prestasies van ons leerders, oudleerders en personeel, op vele terreine.
Ons is trots op die gees wat daar heers tussen die leerders, tussen die leerders en personeel, en tussen die skool en die ouergemeenskap.
Ons is trots op ons tradisies in die skool.
Ons is trots op ons geboue en terrein.
Ons is trots op ons skooldrag, ons skoollied en ons skoolvlag.
Ons is trots op die dissipline en algemene gedrag van ons leerders.
Ons is trots op die seremonies in ons skool.
Gemeenskapsprojek
Ons bied jaarliks 'n funksie aan vir die bejaardes in ons gemeenskap. Ons het in 2002 begin met die projek toe ons bejaardes uitgenooi het na die personeelkonsert en hulle na die tyd onthaal het met verversings. Hierdie projek het gegroei tot 'n funksie waar ons ongeveer 600 bejaardes onthaal.
Die funksie wat ons aanbied is in die vorm van 'n ontbyt. Ons laai die bejaardes by hul woonplekke op en vervoer hulle dan met 8 busse na die plaas, The Willows, van Dirk en Karin Bredenkamp. Daar sit ons vir hulle 'n heerlike ontbyt buite in die tuin voor.
Gedurende die ontbyt word die bejaardes vermaak deur 'n gaskunstenaar. In 2003 was Philip en Ella Kotze die kunstenaars en in 2004 was Al Debbo die gaskunstenaar.
Hierdie geleentheid word gratis aangebied vir die bejaardes danksy borge soos Old Mutual en Clover, en ook donasies van ons ouers. Hierdie projek is 'n geleentheid waar die skool iets teruggee aan hulle wat vir ons soveel gedoen het as voorgangers op die lewenspad.